Ons voel al tuis in Orania

Bouwerk staan altyd stil teen die einde van die jaar se kant, maar ons voel nietemin al tuis in Orania. Noudat ons hier is, kan ons uiteindelik vir u ‘n bietjie vordering wys aan die bouwerk. ORA3 begin nou – soos die engelsman sê “taking shape”. Ons gaan die bouer se arm probeer afdraai sodat ons spoedig meer foto’s kan plaas. Dit sal lekker wees om ‘n foto te plaas waar die dak op, en klaar is!

Intussen het ons besluit om reuse waterverkoelers (Water Coolers) in al ons eenhede te plaas. Al voel ons tuis in Orania kan die son baie warm word! Ons het sedert ons aankoms op die dorp besef dat ‘n mens jouself net terg met gewone waaiers. Ons het ondersoek ingestel na ander oplossings. Die reuse-waterverkoelers wat plaaslik te koop is, is net so effektief soos lugreeling. Ons voel inderdaad dat dit selfs beter is, omdat die verdampingseffek die humiditeit verhoog, en dis belangrik in die Karoo se droe lug.

Ons kan vandag aankondig wie heel eerste by ORA Verblyf gaan kom bly. Die Fouries van Jeffreysbaai en hulle vriende neem albei ons eenhede vanaf 10 tot 14 Maart. Ek glo dit sal gepas wees om ons eerste gaste te verwelkom met ‘n bottel JC LE ROUX sjampanje in elke eenheid! Die res van julle wat volg sal tevrede moet wees vir ‘n klein sjokelade!