U kan saam met Orania se inwoners kuier by talle koffiewinkels, bakkerye en deli’s, asook twee pizza-winkels. Sterreland teater vertoon ou gunstelinge en nuwe rolprente.
By Stokkiesdraai koopsentrum bied een van die twee plaaslike mikro-brouerye Karoo-lafenis terwyl die kinders met die hasies, eende en bokkies kennismaak. Daar is ook snuffelgeleentheid na handgemaakte juweliersware, snuisterye en aandenkings.
Orania bied twee slaghuise, heelparty bakkerye, vele algemene handelaars, ‘n moderne gimnasium kompleet met ‘n privaat fiksheid-instrukteur, haarsalonne, groente- en kruidenierswinkels, ‘n drankwinkel, OTM-geriewe, poskantoor, en ‘n motorhawe. Hier is talle motorwerktuigkundiges, en selfs spesialis-motorversieningsdienste (gesetel in die moderne ligte nywerheidsgebied).
Die dorp het sedert Januarie 2019 ook ‘n dokter, apteker, en goed-toegeruste mediese sorgsentrum.
Oraniërs is baie trots op ons Afrikaanse skole wat wêreldklas onderrig bied. Hier is ook hoër onderwys instansies en koshuise. En natuurlik is geen plattelandse Afrikaanse dorp sonder kerke van vele denominasies nie!

Terwyl u hier is, skakel gerus in op FM95.5, ons eie Radio Orania.
Ons beveel ook aan dat u ook die Heldekoppie, die kultuurhistoriese monument en die Verwoerd gedenkhuis besoek. Wees gerus – dis onmoontlik om nie die koeksister monument te sien terwyl u in die dorp rondry of stap nie!


